Die Max Planck-geselskap vir die Bevordering van Wetenskap (Duits: Max-Planck-Gesellschaft zur Förderung der Wissenschaften e. V.; afgekort MPG) is ’n voorheen onafhanklike nieregeringsorganisasie sonder winsbejag van Duitse navorsingsinstellings wat in 1911 as die Kaiser Wilhelm-geselskap gestig is en in 1948 hernoem is tot die Max Planck-geselskap ter ere van sy eertydse president, die fisikus Max Planck. Die vereniging kry nou geld van die Duitse regering sowel as ander bronne. Volgens die vereniging is sy primêre doel basiese navorsing oor natuur-, lewens- en sosiale wetenskap, die kunste en geesteswetenskappe in sy lid-institute. Dit het sowat 17 000 permanente werknemers, insluitende 5 470 wetenskaplikes. Die Max Planck-geselskap fokus op uitmuntendheid in navorsing. Dit het ’n wêreldwye reputasie as ’n wetenskap- en tegnologiese navorsingsorganisasie, met 33 Nobelpryse wat aan sy wetenskaplikes toegeken is, en word algemeen beskou as een van die voorste basiese navorsingsorganisasies in Europa en die wêreld. In 2013 het die Nature Publishing Index dit vyfde wêreldwyd geplaas in terme van navorsing wat in Nature-tydskrifte gepubliseer is. Die webtuiste Thomson Reuters-Science Watch het die vereniging tweede geplaas op sy lys van voorste navorsingsorganisasies wêreldwyd ná die Harvard-universiteit in terme van die impak van die geproduseerde navorsing oor wetenskapsvelde heen. Onder die Max Planck-geselskap se beroemde wetenskaplikes tel Otto Hahn, Werner Heisenberg en Albert Einstein.
Developed by StudentB